Rio de Janeiro

Hierdie artikel handel oor die stad Rio de Janeiro. Vir die gelyknamige deelstaat, sien Rio de Janeiro (deelstaat).

Rio de Janeiro

Kaart Wapen
Vlag
 Land Vlag van Brasilië Brasilië
 Deelstaat Rio de Janeiro
 Koördinate 22°54′S 43°12′W / 22.900°S 43.200°W / -22.900; -43.200Koördinate: 22°54′S 43°12′W / 22.900°S 43.200°W / -22.900; -43.200
 Gestig op 1 Maart 1565
 Oppervlakte:  
 - Totaal 1 221 vk km
 Hoogte bo seevlak 2 m
 Bevolking:  
 - Totaal (2020) 6 747 815
 - Bevolkingsdigtheid 5 285,6/vk km
 Tydsone UTC -3 (BRT)
 Burgemeester Eduardo Paes (PSD)
 Amptelike webwerf prefeitura.rio

Rio de Janeiro (Brasiliaanse Portugees: [ˈχiw d(ʒi) ʒɐˈne(j)ɾu], ) of kortweg Rio, die tweede grootste stad in BrasiliëSão Paulo en die hoofstad van die gelyknamige deelstaat, lê aan die Guanabarabaai in die suidooste van die land. Die Portugese naam, wat "Januarierivier" beteken, verwys na die datum van sy ontdekking (1 Januarie 1502) deur die Portugese seevaarder Gaspar de Lemos en sy destydse vergissing – hy het die baai van Rio de Janeiro as 'n riviermonding beskou.

Rio de Janeiro, soos gesien vanuit die Parque da Cidade in Niterói. 'n Buitengewone natuurlike ligging tussen bergpieke, strande en mere vorm die skouspelagtige agtergrond vir die wolkekrabbers van digbevolkte stadsdele asook die rustige voorstede van die Cidade Maravilhosa, die Wonderlike Stad

Rio de Janeiro het in die tydperk tussen 1763 en 1960 as die administratiewe hoofstad van Brasilië gedien en hierdie funksie daarna aan Brasília in die sentrum van die land afgestaan. Rio de Janeiro se huidige stadsgebied het 'n bevolking van sowat 6,5 miljoen, terwyl sowat 12,3 miljoen in die metropolitaanse gebied van Rio de Janeiro woon (2015). Die bewoners word dikwels Cariocas genoem – volgens 'n term wat uit die taal van die inheemse Tupí-Guaraní-Indiane ontleen is en letterlik "die wit man se hut" beteken.

Die bekendste bakens van Rio de Janeiro is die Suikerbroodberg (Portugees: Pão de Açúcar), die Christus-standbeeld met 'n hoogte van 38 meter op die bergpiek Corcovado en die sandstrand van Copacabana. Rio de Janeiro staan daarnaas bekend vir sy jaarlikse karnaval, wat danksy die kleurryke parades van die plaaslike sambaskole duisende besoekers lok.

Rio de Janeiro is vandag nie net 'n gewilde toeristebestemming nie, maar ook 'n belangrike handel- en nywerheidsentrum, met voedselverwerking, tekstiel-, glas-, porselein- en farmaseutiese nywerhede. Daar is ook 'n groot oliesuiweringsaanleg. Dele van die stad is op 1 Julie 2012 deur Unesco as wêrelderfenisgebied gelys. Rio de Janeiro was een van die gasheerstede tydens die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1950, FIFA Sokker-Konfederasiebeker in 2013 en FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2014. Die Olimpiese Somerspele 2016 is ook hier aangebied.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search